Our website is made possible by displaying online advertisements to our visitors.
Please consider supporting us by disabling your ad blocker.

Responsive image


Planetarium

'n Planetarium is 'n teater waar die naghemel en opvoedkundige sterrekundige vertonings uitgebeeld word. Dit is meestal vir opvoedkundige doeleindes of vir opleiding in navigasie.

Dit is 'n vertrek met 'n koepeldak, waarteen 'n voorstelling van menige deel van die nagtelike hemelruim met behulp van 'n spesiale projekstoel geprojekteer kan word. Deur die druk van 'n paar knoppies kan die opearteur 'n meteoor aan die "hemelkoepel" laat verskyn en verdwyn.

Binne minute kan die baan van 'n bepaalde hemelligaam deur die hele jaar getoon word, soos dit van enige plek op die aarde waargeneem kan word. Of hoe die sterrehemel van dag tot dag verander kan vertoon word. In die behoefte aan 'n duidelike beeld van die hemelruim voldoen die planetarium dus.

Omdat dit te moeilik is om die aaneenloopende beweging van die hemeliggame sonder die gebruik van sterrekundige instrumente te volg, kan selfs jong gehore deel word van die geheime van die wonders van die sterrenag.

Die moderne optiese planetarium projekteer beelde van die hemelliggame oor die binnekant van 'n groot koepel. Die gebou waarin so 'n vertoning plaasvind, word deesdae ʼn planetarium genoem. In die ou meganiese planetariums word die planete voorgestel deur klein balletjies wat deur ratstelsels rondbeweeg word.

Die eerste planetariums was eenvoudige modelle van die planete. Hulle was van hout of metaal gemaak en klein balletjies wat op stafies gemonteer was, het in sirkelvormige gleuwe om die son beweeg. Charles Boyle, die vierde Graaf van Orrery, het in omstreeks 1700 ʼn ingewikkelde planetarium laat bou, en in Engelstalige lande word ʼn planetarium soms nag 'n "orrery" (klein planetarium) genoem. ʼn Instrument wat net die bewegings van die aarde en die maan om die son voorstel, word 'n tellurium genoem. In meganiese planetariums word die planete deur tandratstelsels beweeg.

Die aantal tande op 'n rat bepaal die tyd wat elke planeet neem om rondom die son te beweeg. Christiaan Huygens was die eerste Nederlander wat so ʼn planetarium (17e eeu) gebou het. Die apparaat is tans in die Museum vir die Geskiedenis van Natuurwetenskappe in Leiden. Huygens se planetarium bestaan uit 'n koperplaat met sirkelvormige gleuwe vir die bane van die planete. Deur die son effens van die middelpunt af te plaas, het hy die veranderlike snelhede van die planete (wat deur hul elliptiese bane veroorsaak word) voorgestel.

Die apparaat het met ratte gewerk, maar met 'n handslinger kon al die bewegings versnel word. Gedurende die 18e eeu het die planetariums meer ingewikkeld geword. Bewegings van die maan, die mane van planete, die kegelvormige bewegings van die aarde se as ten opsigte van die sterre, die wenteling van die aarde, ensovoorts, is almal voorgestel. In 1774 het die konjunksie van ʼn paar helder planete onder bygelowige mense paniek veroorsaak en Else Eisinga, 'n Nederlandse wolkaarder (wolkammer) van Franeker, het besluit om sy woonkamer in 'n planetarium te omskep om die gebeurtenis op ʼn eenvoudige manier te verduidelik.

Die planete het in die dak in gleuwe om 'n son beweeg. Op die mure was daar wysers wat die tye van die son en maan se opkoms en ondergang aangedui het, asook die datum en die tyd. Die aandrywingsmeganisme was bokant die plafon versteek en dit het bestaan uit houtasse, ratte en 'n slingerklok.


Previous Page Next Page